MENLO IS MEER AS NET ‘N SKOOL
‘n Pragtige aanhef tot die dag, geskryf en voorgehou deur mnr. Hans Moolman:
Ouers, Menlo, Menloparkers, Parkies, Oud-Parkies en almal wat oë en ore het.
Terwyl alles nog nie in gereedheid gebring is vir die inhuldiging van die Graad 12-Parkieraad of die amptelike ingebruikneming van die opelug ouditorium nie, vergun my enkele oomblikke voor meneer Nico Erasmus u almal verwelkom.
Want toe die skakel gisteraand uitgaan om die lewendige uitsending van die verrigtinge wat binnekort gaan begin, oor te dra, was dit nie die graad- en klas- whatsapp-groepe wat dadelik die meeste aktiwiteit getoon het nie.
Dit was die Bond van Oudhandjietennisspelers, met lede oor die ganse aardbol versprei, wat begin gons het oor die opening van die opgegradeerde, ten volle gerestoureerde, bykans herontwerpte handjietennisbaan in die welbekende gat net hier regs.
Ja, amptelik is baie van ons baie opgewonde oor die eersdaagse ingebruikneming van die nuwe atletiekbaan; nieamptelik, reken party oudhandjietennisspelers, is die opgewondenheid oor die nuwe handjietennisbaan veel groter.
Maak gerus ‘n draai daar as u netnou uitbeweeg. En moenie daar agter uitgaan nie, stap asseblief voor om en verby die skool se twee maanrotse wat oor die jare heen al amperse kultussatus onder soveel honderde oudleerlinge gekry het.
My eerste bekommernis, die oomblik toe dit rugbaar word dat die jarelange droom van ‘n tipe amfiteater uiteindelik gaan realiseer, was of die klippe tog net behoue sal bly.
Vir hoeveel jaar nie nou al, is die eerste skooldag van die nuwe skooljaar nie soos ‘n goudstormloop van ouds, om kleims in en om die matriekplein af te steek, onder die nuwe matrieks nie.
Jy begin in graad 10 al uitkyk waar jy en jou maats eendag gaan staan as julle groot is. En vir baie is daar net een van twee plekke – by die klip. En die aand voor die skool begin, gons dit in die kuberruim: onthou om more vroeg daar te wees en ons plek te boek met julle tasse en vas te staan, moenie beweeg nie. Dis ons plek daai. En dan is dit survival of the fittest. Die wat weet om te kyk sal die eerste paar dae van skool, kom pouse, sien hoe daar vinniger en reguiter klip toe gehol word as snoepie of kleedkamer toe.
Vra my ek weet. My eie dogter en haar maats was een van die groepe wat begin verlede jaar meegeding het op bruikreg van die twee amperse meteoriete (enige iemand wat al by die Hobas-meteoriet in Namibie was, sal verstaan ek dit so noem).
Hoeveel pieknieks is nie al op hierdie klippe uitgepak nie, hoeveel huiswerk nie daar gedoen, en na alle waarskynlikheid ook afgeskryf nie. Hoevele is nie al daar uitgevra matriekafskeid toe nie, of sommer net om uit te gaan nie. As daardie klippe kon praat, sou hulle kon getuig van uitmaak, en opmaak, hartseer en blydskap, lag en ook trane.
Toe die grade Maandag kom kyk waar hulle afsonderlike kleims afgesteek is en hulle vandag moet sit, toe staan ek daar bo en neem foto’s. Die een whatsapp-foto wat ek gesingroepie stuur, ingezoem op die klippe, se boodskap lui: “Kyk, Klaradyn, die klippe is behoue” Haar antwoord, in hoofletters Yess, met vier -s’e en vyf uitroeptekens.
Dit was Paul Kruger wat 119 jaar gelede tot die gevolgtrekking gekom het: ” “Neem uit die verlede wat goed en mooi is en bou die toekoms daarop.”
Ek is bly dat hierdie goed en mooi uit die skool se verlede behoue kon bly vir die toekoms.
Ek is nog blyer dat die kateder wat daar oorkant gereed staan om onthul te word, vervaardig is uit hout afkomstig vanaf ʼn senior Menlo-inwoner. ʼn Geliefde met wortels diep in die skool se geskiedkundige bodem en ʼn hart met kennis van die lief en leed van Parkies uit toeka se dae tot onlangs.
Dié Apiesdoringboom (Senegalia galpinii) wat hier anderkant gestaan het was ʼn besondere deel van die Menlo-menswees en geliefd onder leerders, personeel en ouers omdat die boom die middelpunt van hartsake was, met sy besondere hartjievorm in die bas, en daarom bekend as die “hartjieboom”. Die unieke hartjie pryk selfs op die voorblad van een van ons vorige skooldagboeke!
Die ou grote moes plek maak vir die Menlo-amfiteater – ʼn tuiste waar Menloparkers die geleentheid gegun gaan word om as ʼn eenheid hul hartklop te versterk met aktiwiteite waar hulle kan skaaf aan die Menlo-grein … die hartklop wat ʼn skool se karakter bepaal, soos die grein van ʼn besondere stuk hout.
Dit is vir Die Hoërskool Menlopark ʼn besondere voorreg om aan die Hartjieboom ʼn ereplek toe te ken op die Amfiteater-verhoog – slegs vyf meter vanwaar sy takke oorspronklik ons harte verower het.
Ek vra dat die erfenisbouer en -behouer, die skrynwerker, Meneer Manie Geldenhuis, verantwoordelik ook vir die kateder dit nou vir ons sal onthul, waarna Meneer Erasmus die amptelike verwelkoming sal doen.