16 Mei 2025. Wat ‘n spesiale dag by Die Hoërskool Menlopark!
Vandag het ons die voorreg gehad om ons heel eerste matriekklas van 1965 te verwelkom vir hulle ongelooflike 60-jaarreünie. Dit was ‘n hartroerende geleentheid gevul met herinneringe en Menlo-gees.
Me. Eria du Plessis het ‘n pragtige gewyde opening gelei waar sy die voorblad van die eerste Eggo, wat in daardie jaar verskyn het, as verwysing gebruik het en almal aangemoedig om elke stem wat hier by Menlo gevorm word soos ‘n trompet te gebruik wat waarheid en hoop in die wêreld uitbasuin. Die Menlo-koor het ‘n roerende seënbede vir ons gaste gesing waarna Mnr. Kobus Hartman ‘n besondere verwelkoming gerig het.
Menlo se eerste matriekhoofseun, Mnr. Chris Derken en hoofmeisie, Me. Gardiol Bergenthuin (de Villiers) het elk op hul beurt ‘n spesiale boodskap gedeel en talle staaltjies uit die vroeër dae by die Menloparkse Hoërskool, soos die skool destyds nog bekend gestaan het, met die skool gedeel.
Die koshuis het met ‘n smullekker koshuisontbyt gereed gestaan waarna ons gaste op ‘n wandeling deur die skool geneem is. Hulle het selfs ‘n draai by die Gr. 8-Entrepreneursdag gemaak en kon deel in die Menlo-gees.
Namens elke Parkie, personeellid en oud-Parkie wil die Menlobond hierdie spesiale groep Pionier-Parkies bedank vir die soliede grondslag, wat hulle 63 jaar gelede, hier gelê het.
Meer foto’s van die oggend:
https://photos.app.goo.gl/mVuVP7MSv6FScgSm7
.
- Voor: Cecile Coetzee (de Villiers), Irma de Wet (Kempff), Jean Fourie (Jooste), Hettie Groenewald (Theron), Gardiol Bergenthuin (de Villers), Elizabeth de Jager (Gericke), Annatjie Smit (Groenewald). Agter: Chris Derksen, Hendrik Coetzee, Johann Kotzé, Laurie Dippenaar, Lourens de Jager, Hubert van der Spuy.














