Oud-Parkie en skrywer, NADINE PETRICK (’94) is uniek en geen vreemdeling as dit by interessante stories kom nie. Ons het by Nadine ingeloer en haar uitgevra oor haar tyd hier op die Menlo-banke en waar sy haar vandag bevind. Dankie Nadine! Ons ‘love’ jou ook!
Nadine vertel:
“As jy in die 90’s by juf. Ria Cilliers klas gehad het, het jy waarskynlik nou dieselfde liefde vir tale as ek gehad. Of nie, want sy was blêrrie kwaai. Maar sy het my gelove. En sy het my opstelle gelove. En daarom het ek nog nooit ophou skryf nie. (Die wonders van ‘n goeie onnie, nè?).
Ek het al op skool vir die Beeld begin skryf en sedert 1994 al in verskillende tydskrifte, koerante en ook aanlyn gepubliseer. Van my stories is in ‘n paar versamelings te sien, waaronder die Woordfees se kortverhaalboek van 2019. Daar het hierdie jaar twee versamelbundels by LAPA verskyn, ‘Die skool vir Rampspoedige talente en ander gelukkig stories’ en ‘Tyd is ‘n b**ksem en ander belaglik lekker tekste’ en van my stories is in hierdie bundels opgeneem.
My liefde vir die geskrewe woord stop nie daar nie. Ek het jare gelede ‘n honneursgraad in Uitgewerswese gedoen en ek werk tans vir Penguin Random House, die grootste uitgewery in die wêreld. (En deesdae bel juffrou Cilliers vir my as sy ‘n taalnavraag het… Ware verhaal.)”