Die Menlobond het die Klas van ’72 verlede Vrydagoggend as eregaste by die skool ontvang. Die opening is op die pawiljoen gehou waar die Parkieraadvoorsitter en die hoof, Mnr. Schalk Reynders, ons gaste verwelkom het. Die 1972-hoofseun, Ross Naudé, en -hoofmeisie, Amanda Talma (De Bruyn), het die skool toegespreek en tot groot vermaak van almal ‘n paar vermaaklike staaltjies uit Menlo se verlede gedeel. Die skool het die pawiljoendak gelig met die skoolkreet waarna daar met die skoollied afgesluit is – voorwaar ‘n hoendervleis-oomblik.
Na die verrigtinge het ons gaste ‘n verversing geniet en is toe op ‘n insiggewende toer, deur die adjunkhoof, Mnr. Nico Erasmus, deur die skool begelei.
Saterdag was daar groot fees in die Klubhuis gevier! Met die heerlike geure van ‘n lam op die spit en ‘n gesellige atmosfeer is daar weer opgevang en lekker gekuier. Dit was baie spesiaal dat ons voormalige skoolhoof, Mnr. Fanus Booysen en sy gade Me. Kittie Booysen (Le Roux), ook ‘n oud-Parkie personeellid, die aand kon bywoon. Voorwaar ‘n naweek om te onthou!