In samewerking met ons Pionier-Parkies (1965-69 matrieks) en die Universiteit van Pretoria se argiefdeskundige, Leonard Daniels, is die Menlobond tans besig met ‘n enorme taak om die argiewe van ons skool aan te teken.
Elke Eggo Jaarblad, -kwartaalblad, Kwêvoël, brosjure en al die kosbare items word in ‘n databasis opgeteken, in ‘n digitale liasseerstelsel, OMEKA, ingevoer en bewaar. Dit sal die eerste keer in ons skool se geskiedenis wees dat daar ‘n amptelike argief van die skool opgeteken word en ons glo dit sal vir ons pragskool van groot waarde wees.
Die Menlobond het ‘n moderne boekskandeerder aangekoop en is tans in die proses om alles in plek te kry om met projek MenloScan te begin! Daar is meer as 60 jaarblaaie, 300 kwartaalblaaie en nog vele ander publikasies wat in digitale formaat omgeskakel moet word. Enige hulp sal baie waardeer word! Kontak asseblief die kantoor as jy handjie wil kom bysit.
Ons moedig al ons oud-Menloparkers aan om asseblief hulle stoorkamers, pakkamers, bokse en kaste uit te pak en enige Menlo-memorabilia na die Menlobondkantoor te bring sodat ons dit in die argief kan insluit.
Oorweeg asseblief ‘n finansiële skenkings tot die projek. Dit kan hier gemaak word en sal ekslusief vir die Argief-projek aangewend word. So dra u by tot die bewaring van ons besonderse Menlo-geskiedenis.
Baie dankie aan almal wat onverpoos werk om ons mooi geskiedenis te bewaar en te sorg dat ons hede mooi opgeteken word om die toekoms te bewaar.