Sedert 1963 loop daar Parkie-bloed deur baie van ons Pretoria-families se are. Een so ‘n familie is die Krugers. Daar is nie minder as twaalf lede van hierdie familie wat reeds op die stoepe van ons skool gestap het en diep spore getrap het nie. DR. BINGLE KRUGER, afgetrede vervoeringenieur en stigtersvennoot van die destydse en welbekende BKS-groep, was in die vroeë 1990’s ook ondervoorsitter van Die Hoërskool Menlopark se beheerliggaam gewees.
Sy dogter, Ester Cloete, het in 1983 gematrikuleer en gee sedert 1988 Wiskunde hier by die skool. Sy is getroud met argitek, Louis Cloete, ook voormalige Menlo BL-voorsitter en tans ondervoorsitter van die Menlobond. Hulle het vier kinders wat almal hul skoollooppbane aan Die Hoërskool Menlopark voltooi het.
Louis-Martin (2011) is, soos sy pa, ook ‘n argitek. Bingle (2013), vernoem na sy oupa, is ‘n geoktrooieerde rekenmeester. Erna (2017) is ‘n fisioterapeut hier in Pretoria en Anet-Mari (2018) is ‘n spraakterapeut.
Dr. Kruger se seun, Nicolaas Kruger, het in 1985 matriek geskryf en is vandag ‘n aktuaris, wat op strategiese beplanningsvlak, baie aktief by die Menlobond betrokke is en het ook op die skool se BL as voorsitter gedien. Hy en sy vrou, Betsie, het drie Parkie-kinders.
Bingle (2014), ook vernoem na sy oupa, is ‘n bedryfsingenieur. Myra (2016) is, ook soos haar neef, ‘n geoktrooieerde rekenmeester en Stegmann (2019) is ‘n aktuaris.
Dr. Kruger se jongste seun, Gert Kruger, was in 1991 in matriek en is ‘n geoktrooieerde rekenmeester wat in Johannesburg met sy vrou, Trienchen en hulle drie seuns, woon.
Een van Dr. Kruger se groot passies in die lewe, is sy liefde vir broodbome – ‘n stokperdjie wat sy skoonseun, Louis, met hom deel. Verlede week het Dr. Kruger twaalf broodbome, ter viering en erkenning van die insette wat Menlo op sy familie gehad het, uit sy persoonlike versameling, aan die skool geskenk wat nou in die skool se voortuin pronk. Van die spesies wat hier geplant is, is o.a. Encephalartos Laevifolius, Encephalartos Lehmanii, Encephalartos Tranvenosus (in die volksmond bekend as ‘n Modjaji) en Encephalartos Longifolius.
Die Menlobond wil baie graag, ook namens die skool se bestuur, personeel en leerders, vir dr. Bingle Kruger en die uitgebreide Kruger-familie hartlik bedank vir hierdie gebaar en kosbare skenking.